Friday, January 9, 2009

Vir Alta (jou haas)

Ek het belowe om hierdie inskrywing in Afrikaans te doen, so hier is hy nou.

Die organiseerdery vir die "Groot Trek" is nogal iets om oor te dink hoor. Ons het gister die konsultant van "Crown Movers" hier gehad om vir ons 'n kwotasie te gee vir die vervoer van ons meubels, en toe noem sy 'n groot vloekwoord... INVOERPERMITTE vir die motorfietse. Ek is toe dadelik op my agtervoet, of is dit nou die voorvoet, soos net een van die Bothas kan wees, en se dadelik dat dit nie nodig is nie, maar agterna het ek darem gewonder of ek reg was. Nietemin ek het toe maar vandag nageslaan en gekyk, maar nog nie agter die kap van die byl gekom oor wat die regte ding is nie. Ek weet ek het nie 'n UITVOERPERMIT nodig nie, dit is net op motors van toepassing, maar die INVOERPERMIT vir NZ is ek nou nie meer so seker oor nie.

In elk geval, ek sal dit naslaan en seker maak.

Verder is dit maar lyste opstel en nagaan en seker maak dat niks agterwee bly nie, en weer lyste maak en nagaan en so aan. Ek het darem vandag al die Bankstories uitgesorteer en dit lyk darem of ons 'n geldjie sal he om brood mee te koop as ons in die land van die lang wit wolk aankom. Verblyf word darem vir ons gereel en ons sal vir die eerste twee weke darem lekker kan slaap en nie op die vloer nie. Daarna sal ons hopelik 'n huisie he, sonder meubels dalk, maar waar ons ons sal kan tuismaak, al is dit ook net tydelik.

Ja dis maar 'n storie, maar na vandag se onderonsie met die baas en sy houding, sal dit die moeite werd wees. Ek se toe mos vir ou Jan, dit maak die besluit net so bietjie makliker en die motivering net so bietjie sterker.

Nouja, dan is dit maar so.
Ons gesels weer

No comments:

Post a Comment